Wednesday, July 18, 2012

Skets

Woorde. Gedigte, boeke, voordrag, musiek.

Ek kan nie teken, beeldhou, of verf nie. Ek het nooit goed gedoen in sport nie. Woorde was al wat ek gehad het. Die meeste van die tyd was die woorde tussen ek en myself, ek het feitlik elke wakende oomblik op my eie spandeer.

Nie veel het verander as volwassene nie, woorde is steeds al wat ek het om myself mee uit te druk. Dit is moeilik wanneer jy 'n kunstenaar binne het wat skree vir uitlaat, en jy het nie die wyse om hom te laat uitkom nie, daar is geen kanvas om op te werk nie, behalwe vir pen op papier.

Dit is 'n gevangenis, my siel worstel met my bewussein, hulle kan nie gelyktydig praat nie.

En dan wil my hart nog sy sê inkry ook. Vanaand rol die woorde soos water teen 'n berghang af, maar my hand kan net een stem op 'n slag neerskryf, my tong strompel oor die magdom woorde wat soos 'n skare toesak op my lippe.

Daar is vuur in my beendere, daar is 'n tier toegesluit in my hart. Die stamp boor in my kop maak die grootste lawaai, en my liggaan stoei om alles bymekaar te hou.

Ek wil skree uit frustrasie, ek wil gil oor my verknouing. Ek lyk beskadig, ek blyk stukkend en verweer. Dit kom voor of die oorloë van generasies voor my afgespeel het, dog het ek slegs die berigte gelees.
Gelees. Lees. Woorde. Al wat ek het, is woorde. My woorde, my enigste kuns, my afleiding en toevlug. My waarheid. My woorde, bied ek aan jou.

Daar waar die son opkom
Daar het ek gewag
Om die strale te sien op die dou?
Refleksies van die blare?
Nee
Ek staan en wag
Om jou te sien
Die lig op jou hare
Jou melkwit vel
Jou diep blou oë
Wat die son soos skadu laat lyk
Daar waar die son onder gaan
Daar staan ek en wag
Om jou in my arms te omvou
Jou met my liefde te bad
Tussen sonop en sons ondergang
Stap ek tussen die bome
Saam met jou

Ek is toegewy aan jou. My hart behoort aan jou. My siel smag na jou. My liggaam vra na jou aanraking. My mond praat van jou. In woorde, my enigste kuns. Van my liefde. Vir jou.

Ek het jou lief.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home